|
|
Die Buckfever Underground se 'Die Volk is in die Kak' is onlangs ingesluit op Club 100 in Nederland se ranglys van die beste protes-songs in die wêreld. Ander songs op hierdie lys kom van legendes soos Bob Marley, Bob Dylan en Sting af. Ons het vinnig met Toast Coetzer van Buckfever gepraat oor wat dit vir hulle beteken. Lees ook die lyrics onderaan...
MK] Waaroor gaan die song?
TC] ‘Die Volk Is In Die Kak' is ‘n algemene weeklaag wat op min of meer elke verwesterse en verwaterde volk in die wêreld van toepassing is. Die kulturele verwysings - en die taal waarin dit opgevoer word - is natuurlik Afrikaans, so ons praat in die eerste plek oor Afrikaners, maar dit kan net sowel enige Suid-Afrikaners, Amerikaners (vervang “Steve Hofmeyr” bloot met “Jimmy Buffet”) of Xhosas (vervang “Parow vriendinne” met “Mdantsane vriendinne”) wees waarvan gepraat word. Dit is tong in die kies, en wys voor die hand liggende dinge uit, dinge wat ons weet ons gewigte om die enkels is: roetine, besoedeling, verveling, die ouderdom, vals beloftes, kommersialisering van emosies, rassisme as manier van lewe, ‘n gejaag na wind en ontnugtering met gesagstrukture.
MK] Kan jy onthou waar en wanneer jy die woorde geskryf het?
TC] Nie presies nie, maar dit sou omstreeks vroeg 1998 in Grahamstad gewees het. Ek, Gil Hockman (baskitaar) en Jon Savage (klawers) het saam geswot daar en die band is daar gebore (Stephen Timm en Righard Kapp het ons later in Kaapstad gejoin). Ek't by ‘n vriendelike landlady gebly wat baie gerook het en mededeelsaam was met haar wit bokswyn. Dit was ‘n doodloopstraat en daar was twee worshonde.
MK] Hoe voel dit om op ‘n ranglys saam met Bob Marley te wees?
TC] Prettig. Die ranglys het 'n hele spul groot name op - U2, Bob Dylan, Joan Baez, Rage Against The Machine, System of a Down - en dan ander sangers/ bands uit die Lae Lande soos Boudewijn de Groot, De Dijk en Dirk Witte. Die ranglys is deel van die show Club van 100 op die opvoedkundige radiostasie RVU en samestellers van die show, gaskunstenaars en luisteraars het songs genomineer - ten minste, dis hoe dit vir my lyk. Ek't die lys onlangs per ongeluk raak ge-Google. Stef Bos het ons genomineer. Ek't hom so paar jaar gelede op Oudtshoorn gesien by die KKNK en hy't my toe vertel dat hy ‘n fan van die liedjie is en dit gereeld op mix CDs sit vir vriende as hulle Suid-Afrikaanse musiek wil hoor.
MK] Watter soort protes dink jy is op die oomblik belangrik in Suid-Afrika?
TC] Protes is net protes wanneer mense dit hoor en daarop reageer. Ek sou ‘Die Volk' byvoorbeeld eerder as sosiale kommentaar beskryf, maar wanneer mense die protes daarin raaksin, dan was die sosiale kommentaar seker gepas - mits dit reaksie ontlont. Die liedjie is egter al amper 10 jaar oud en die inhoud van die liedjie is nog net so gepas in vandag se samelewing, so nie veel het verander nie. Vandag is dit belangrik om protes aan te teken teen dinge wat vir ons aanvaarbaar geword het, maar eintlik onaanvaarbaar moet wees: ons regering se laksheid met die uitrol van ARVs vir mense wat Vigs het, die oordaad misdaad, die min geld en aandag wat aan opvoeding en basiese gesondheidsdienste bestee word, wanadministrasie van staatsgeld, korrupsie, kindermishandeling - die lys is lank, maak bloot vandag se koerant oop...
MK] Het julle al enige reaksie uit Nederland gekry na die ranglys bekend gemaak is?
TC] Nee, ek dink nie dis ‘n big deal nie. Ek weet ook nie hoe oud die lys is nie. Dis dalk al lankal online.
Mense kan hier na ‘Die Volk' luister: The Buckfever Underground
En dit hier download vir R7: Rhythm Records
Ek sien dis tans #6 most downloaded song op Rhythm se lys... Weird wat ‘n random but well directed press release kan doen...
die volk is in die kak
ek weet byna presies wat's fout met ons
ek lees my nuwe uitgawe van de kat en ek weet
ek kyk tv en ek weet
ek luister radio en ek weet
ons is deur die kak
storie van sonde by monde van die kombuiskasradio wat ewe grys en sedig en novilon-geel jou lewe se hande beperk tot ketels en wasgoed en stofsuiers
groot-uier koei jou moeisame mens jou grensende stuk lap jou sagging borste jou parow vriendinne jou gek gek obsessie met steve hofmeyr en huisgenoot-heroes en bondgenootlose naweke vol popcorn en pap en braaivleis en buurmanne vol grappe
trippe trappe trone die volk is in die kak
die belofte van m're word gister se misgissing visvang by die vaaldam vakansie by b&b's en kos by bp express en excessive nagte vol geslagte wat lank in die donker vir jou sit en lag lag lag
bedags daai selfde stuk grond verpand vir selfone en die c-reeks en reukwater en www.yahooooo.com
so slinks is hy met sy cufflinks en gholfstokke en winternagjagtogte na bokke met rokke met nog woord nog styl net kwyl geen kwellings die swellings dig toegetrek agter blomrokke en donkerbril skokke en bybelversies en kersfees met die kinders
verhinder jou siklus vol siektes met rooklonge en ou tande en ‘n ingeboude bar vol
sfw kwv en sab
jou onbenydenswaardige rassehaat agter paraatheid en vrate vir vreugde sonder deugde in ‘n land van besittings en versetlose ontsetting hth pools van hoofpynpille en skrille lug wat draai en kantel soos ‘n mantel horison wat die son gryp en die donker giet deur hierdie son hierdie son
van uv factors en fabriekrook
klokke sonder bokke vir die skape sonder skade berokken jouself oortrokke deurtrek met tradisie en maniere en straatname en vervolgverhale en maagkwale en god weet wat wie het meer te sê as die besitter die ontbieder die verspieders is dood en die ontkennings te koop by boekwinkels apteke regerings stuttafords en steers
trippe trappe trone die volk is in die kak
(foto: Ruan Kemp)
| |